KIMBERLEY. – Die Demokratiese Alliansie (DA) het die Sol Plaatje-munisipaliteit aan die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) rapporteer weens hul versuim om ‘n stukkende rioolpyp te herstel.
Lees ook: Aansoeke oor BTW-verhoging vandag in die hof
George Joseph, DA-raadslid, sê die situasie veroorsaak dat die stormwaterkanaal in Floors, Kimberley, deur rioolwater besmet word.
“Die pyp langs die kanaal op Recreationpad is in Desember verlede jaar tydens ‘n munisipale skoonmaakaksie deur ‘n graaftoestel beskadig. Herhaalde klagtes en versoeke deur die DA om die pyp te herstel, het op dowe ore geval,” sê Joseph.
“Die besmette kanaalwater omseil die Homevale-afvalwatersuiweringsaanleg en vloei reguit in Kamfersdam, die eens wêreldbekende tuiste van die kleiner flaminkbevolking. Afgesien van skade aan die flaminkbevolking, hou die situasie ‘n direkte gesondheids- en veiligheidsrisiko vir die gemeenskap in. Die naaste informele huise is minder as vyf meter van die kanaal geleë. Die rioolbesoedeling affekteer ook nedersettings soos Mint Village, wat stroomaf is.
“Die DA het laasjaar in November Sol Plaatje en die departement van samewerkende regering by die Groen Skerpioene gerapporteer toe gemeenskapslede, sonder die beloofde sanitasiedienste en infrastruktuur, emmertoilette in die kanaal leeggemaak het. Terwyl hierdie spesifieke kwessie sedertdien gedeeltelik aangespreek is ná voortdurende druk deur die DA, hou Sol Plaatje se versuim om sanitasieprobleme te prioritiseer steeds ‘n gevaar in vir die stad, wat reeds in rioolwater verdrink.”
Joseph sê die DA verwag dat hulle aanspreeklikheid op Sol Plaatje sal afdwing vir die vinnige herstel van stukkende rioolinfrastruktuur en die beskerming van inwoners en die Kimberley-omgewing.
https://www.facebook.com/nuusflitsSA/videos/1540624010232127
*PERSVERKLARING





