*PERSVERKLARING
Byna vyf jaar ná die opening van die Kimberley-geestesgesondheidshospitaal het dit ontaard in ’n broeikas van risiko’s vir pasiënte en personeel, sê die DA in ‘n verklaring.
Dr. Izak Fritz, DA-premierskandidaat, sê n oorsiginspeksie van die hospitaal deur DA-LPW, Ofentse Mokae, het aan die lig gebring dat die terrein erg toegegroei is. Die instandhoudingskontrak het in Junie 2022 verstryk. Daar is geen ambagsmanne op die perseel nie en as gevolg van die sentralisering van finansies is dit ‘n stryd om selfs die basiese instandhouding te bewerkstellig, soos om dreine oop te maak.
“Slegs 153 uit 287 beddens is tot dusver in bedryf gestel. Dit is nie veel beter as die getal operasionele beddens by die multimiljardrand-hospitaal se voorganger, die ou West End-hospitaal, wat met ‘n kapasiteit van 133 beddens gefunksioneer het.
“Die fasiliteit funsioneer op slegs 53% kapasiteit. Kinders en adolessente pasiënte met psigotiese toestande word in sale met vrywillige volwassenes geakkommodeer, terwyl kinders wat in konflik is met die wet by plekke van veiligheid geakkommodeer word. Pasiëntveiligheidsvoorvalle is by die plekke van veiligheid aangemeld, maar nie by die hospitaal nie. Die risiko van gemengde kinder- en volwassenesale bly nietemin ‘n hoë risiko,” sê Fritz.
“Die operasionalisering van die saal met 17 beddens vir kinders en adolessente sal ongeveer R24 miljoen beloop. Aangesien die hospitaal ‘n jaarlikse begroting van R106 miljoen het, wat swak vergelyk met die begroting van die ou West End-hospitaal, op R108 miljoen in 2019, is dit onwaarskynlik dat hierdie saal binnekort in werking gestel sal word.
“Na verskeie voorvalle van kabeldiefstal en vandalisme by die hospitaal se substasie, is daar net ‘n leë dop wat oorbly. Die hospitaal is as gevolg hiervan gedwing om van ‘n kragopwekker gebruik te maak. Om die gebruik van die kragopwekker te verleng en om diesel te bewaar, word die kragopwekker slegs van 08:00 tot 13:00, en weer van 18:00 tot 04:00 gebruik. Vir die oorblywende ure van die dag implementeer die hospitaal sy eie vorm van beurtkrag. Dit het ‘n ernstige impak op die hospitaal.
“Wanneer diesel opraak, as gevolg van die lang gesentraliseerde verkrygingsproses, word die hospitaal en die terrein in totale duisternis gedompel sonder enige waarskuwing. Dit hou ‘n verdere bedreiging in vir die veiligheid en welstand van personeel en pasiënte.
“Weens die elektrisiteitskrisis werk die landlyne en internet nie. Die hospitaal is ook sedert Oktober verlede jaar sonder warm water. Personeel maak gebruik van ketels om pasiënte van warm water te voorsien. Die verhitting, ventilasie en lugversorgingstelsel werk ook al ‘n geruime tyd nie. Die hospitaal is ondraaglik warm in die somer en baie koud in die winter. Die apteek moes egter toemaak omdat dit nie meer aan lisensievereistes voldoen nie as gevolg daarvan dat temperature nie reguleer is nie. Medikasie voorraad word eerder by die TB-hospitaal gehou. Koelbokse word gebruik om die koueketting vir medikasie wat op die perseel benodig word, in stand te hou.”
Fritz sê die situasie by die geesteshospitaal is “haglik” en terwyl toegewyde personeel probeer om die meeste van ‘n slegte situasie te maak, is ‘n massiewe, hoër-vlak ingryping nodig om veiligheid, dienste en waardigheid aan die personeel en pasiënte te herstel.
Ter herdenking van menseregtemaand sal die DA die LUR van Gesondheid, Maruping Lekwene en die waarnemende HOD van Gesondheid, Mxolisi Mlatha, versoek om hulself daartoe te verbind om gehalte geestesgesondheidsorgdienste na die geesteshospitaal te bring. Die verdere sentralisering van gesondheidsorgfinansiering, wat nadelig vir die bestuur van die nuwe geestesgesondheidshospitaal, moet ook stopgesit word.
“Gegewe dat die ANC-regering ‘n Nasionale Gesondheidsversekering (NHI) wil implementeer, weet ons dit sal waarskynlik nie gebeur nie. Ons doen dus ‘n beroep op kiesers om eerder vir die Demokratiese Alliansie (DA) te stem. Ons is daartoe verbind om universele toegang tot gesondheidsorg vir alle landsburgers te bewerkstellig. Ons sal dit doen deur die huidige distriksbestuursmodel te laat werk, in teenstelling met die NHI en die sentralisering van alle gesondheidsorgstelselfunksies.”



*Hierdie persverklaring is deur die DA geborg.
*PERSVERKLARING
Lees ook: DA unveils candidates for NPE 2024 to ‘rescue South Africa’





