GAUTENG. – Die DA sê die Tshwane-munisipaliteit se gebruik van ‘n tipe beurtkrag, oftewel load reduction, ná die brand by die Waltloo-substasie dui volgens die party op ernstige probleme met die stad se elektrisiteitsnetwerk.
Ald Cilliers Brink, DA Tshwane se burgemeesterskandidaat, sê die brand het die Njala-invoersubstasie beskadig, wat volgens hom een van die belangrike punte is waarvandaan Tshwane grootmaat-elektrisiteit van Eskom ontvang. Hy sê daar is kommer dat kritieke transformatorkapasiteit by Njala verlore gegaan het en dat die skade ernstiger kan wees as wat die stad aangedui het. Volgens Brink het die verlies aan transformatorkapasiteit tot pogings om kragrotasie toe te pas gelei om te voorkom dat die oorblywende kapasiteit oorlaai word. Hy sê die stad moet so gou moontlik ’n ingenieursoplossing vind om die kragtoevoer te stabiliseer, moontlik deur elektrisiteit van ander invoerstasies af terug te voer.
Brink verwys ook na ’n verslag van die stad se energie- en elektrisiteitsake-eenheid van 1 Junie 2026, waarin volgens hom gewaarsku is dat onvoldoende kapitaal- en bedryfsbefondsing die elektrisiteitsnetwerk tydens die 2026-winterpiek aan ’n hoë risiko vir wydverspreide onbeplande kragonderbrekings blootstel.
Die DA sê hy het ’n klag by Nersa ingedien om te bepaal of Tshwane aan sy elektrisiteitslisensievoorwaardes, insluitend instandhoudingsverpligtinge, voldoen. Brink doen verder ’n beroep op die stad om inwoners en raadslede gereeld oor die herstelplanne in te lig en vra vir ’n onafhanklike ingenieursbeoordeling van die toestand van die elektrisiteitsnetwerk.