GAUTENG. – Die DA sê die Gautengse departement van landbou en landelike ontwikkeling (GDARD) moet verduidelik wat geword het van meer as 200 000 dosisse bek-en-klouseer-entstof, wat volgens die party nog nie toegedien is nie.
Bronwynn Engelbrecht, provinsiale skaduminister vir landbou en landelike ontwikkeling, sê die departement het bevestig 540 000 diere is teen bek-en-klouseer ingeënt. Die departement het volgens die DA meer as 757 340 entstofdosisse ontvang. Volgens Engelbrecht beteken dit dat meer as 200 000 dosisse nie toegedien is nie. Daar moet nou vasgestel word hoeveel diere in Gauteng ingeënt moes word, wat met die oorblywende dosisse gaan gebeur, hoeveel nog bruikbaar is en wanneer dit verval. Die DA sê dit is ook onduidelik hoeveel vatbare diere nog ingeënt moet word en of Gauteng naby voldoende beskerming teen die siekte is.
Engelbrecht sê ’n uiteensetting moet gedoen word hoe die R63,4 miljoen wat vir bek-en-klouseerbestryding toegeken is, bestee is. Gauteng se hantering van die bek-en-klouseer-uitbreking word gekritiseeer en die DA sê die provinsie se reaksie is swak bestuur en onvoldoende verantwoord. Die party sê Gauteng moet nou met private veeartse, georganiseerde landbou, veilingshuise, veeverenigings en boere saamwerk om te verseker dat diere wat ingeënt moet word, die entstof ontvang.