KWAZULU-NATAL. – ‘n Dagga-kweeklaboratorium is vanoggend oorkant ‘n hoërskool tydens ‘n roetinebesoek deur die polisie aan die skool ontdek. Twee mans, 38 en 55 jaar oud, is in hegtenis geneem. Die polisie moedig ouers en gemeenskappe aan om waaksaam te bly en enige verdagte aktiwiteite naby skole aan te meld.
Lt.kol. Paul Magwaza, provinsiale polisiewoordvoerder, sê lede van die sosialemisdaadvoorkomingseenheid was besig met die roetinebesoek toe hulle verdagte bedrywighede by ’n woning in Ngobeseweg opgemerk het. Met verdere ondersoek het beamptes glo vasgestel dat die bewoners na bewering dagga aan leerlinge verkoop. ’n Deursoeking van die perseel het volgens Magwaza ’n volledig operasionele binnenshuise dagga-kweekopset ontbloot. Polisie het daggaplante, lugsuiweraars, waaiers, verpakkingsmateriaal en toerusting wat vermoedelik vir die verbouing en verspreiding gebruik is, gekonfiskeer. Forensiese kundiges is ontbied om die toneel te verwerk.
Die twee verdagtes staan op aanklagte van die kweek en handel in dagga tereg en sal na verwagting Donderdag in die Durban-landdroshof verskyn.








