LIMPOPO. – Die polisie in Limpopo het ‘n deurbraak met spiking-en moordinsidente wat op die N1 plaasvind, gemaak. Verdagtes het in die hof verskyn en bly in aanhouding.
Volgens kol. Malesela Ledwaba glo die polisie die gearresteerde verdagtes sal help om aanvalle op motoriste en passasiers in die provinsie hok te slaan. ‘n Aantal sake is in die Bela Bela-gebied (Warmbad) geopen, waar voertuie deur skerpgemaakte penne gery, pap bande opgedoen en moes stilhou en daarna van besittings beroof is. Tydens een van die insidente het ‘n motoris op die toneel gesterf nadat hy geskiet is.
Ledwaba sê daar is onverpoos gewerk. Nadat inligting ontvang is, het polisiebeamptes van Brits, Temba en Bela Bela kragte saamgesnoer. Verdagtes het in die Temba-landdroshof verskyn en is daarna na Bela Bela geneem. Op 14 November is ‘n identifikasieparade gehou, waartydens verdagtes positief vir roof uitgewys is. Die verdagtes word van gewapende roof en moord, gedurende Junie en Julie gepleeg, beskuldig.
Alberto Quiton Lucas, Khoza Khumalo, Tsakirai Wedzerai en John Moyo staan in sake van gewapende roof wat in Junie aangemeld is, tereg.
Khoza Khumalo, Brighton Zacheche en John Moyo staan vir moordsake wat in Julie geopen is, tereg.
Volgens Ledwaba is die hofsaak wat Vrydag voorgekom het vir borgaansoek tot 9 Desember uitgestel.
Die polisie se ondersoek duur voort.
(Foto op lêer ter illustrasie)





