WES-KAAP. – “Sy is brutaal, doelbewus en koelbloedig vermoor. Sy moes vreesbevange gewees het, gewonder het of iemand haar sou vind en sy moes verskriklik alleen gevoel het. Daar was baie bloed,” sê Lida Nel. Deveney Nel se moordenaar (18), oftewel “‘n kind in konflik met die gereg” is, nadat hy aan moord en poging tot regsverydeling skuldig bevind is, effektief tot 25 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis.
Eric Ntabazalila, NVG-woordvoerder, sê in ‘n verklaring die beskuldigde het die staat deur sy regsverteenwoordiger met ’n aanbod om ’n pleit-en-vonnisooreenkoms genader. Hy het skuld beken aan die moord op Nel en aan die poging om haar liggaam weg te steek. Hy is tot 25 jaar direkte gevangenisstraf vir moord en addisioneel 1 jaar gevangenisstraf vir die poging om die gereg te verydel, gevonnis. Die hof het beveel dat die vonnisse gelyklopend uitgedien moet word, wat neerkom op effektief 25 jaar tronkstraf. Voor die afsluiting van die vonnisooreenkoms is met die oorledene se moeder, Lida Nel, en die ondersoekbeampte, AO Louw, gekonsulteer. Albei het met die vonnis saamgestem.
Tydens die misdaad was die oorledene 16 en die beskuldigde 17 jaar oud. Die beskuldigde het in sy pleit-en-vonnisooreenkoms aan die hof gesê dat hy op Donderdag 7 Augustus 2024 op sy skool se sportveld noodhulpdiens gedoen het. Hy was ‘n senior lid van die skool se noodhulpspan met kennis tot op ‘n gevorderde vlak 3. Die oorledene was ook deel van die span en hulle was vriende.
Omstreeks 15:45 het hy haar gevra om by die netbalbane te help, waarop sy ingestem het. Hy het haar vergesel en beweer dat hulle in die skool se stoorkamer intiem geraak het. Daarna het sy glo vir hom gesê sy was ontrou aan haar nuwe kêrel, wat hom kwaad gemaak het. Hy het haar verwurg totdat sy flou geword het, waarna hy haar met ‘n mes in die nek en bors gesteek het. Hy het haar vier keer gesteek, twee keer in die nek en twee keer in die bors. Sy doel was om haar dood te maak. Toe sy geen tekens van lewe toon nie, het hy haar liggaam in die agterste gedeelte van die stoorkamer versteek en haar selfoon geneem. Hy het die selfoon agter op ‘n bakkie gelaat om mense en die polisie te mislei. Later, toe sy as vermis aangemeld is, het hy selfs saam met ander na haar help soek. Die polisie het haar selfoon opgespoor en haar liggaam later in die stoorkamer gevind.
Adv. Leon Snyman, staatsaanklaer, het vir verswarende omstandighede aan die hof gesê dat die beskuldigde die oorledene by die skool vermoor het, ’n plek waar kinders veronderstel is om veilig te wees. Hy het buitensporige geweld gebruik – die steekwonde was so ernstig dat haar linkerlong ineengestort en haar hart beskadig is. Die rede wat vir die moord aangevoer is, dui op toksiese manlikheid. Die beskuldigde het ook probeer om die polisie te mislei en sy optrede weg te steek.
As deel van die vonnis het die hof die beskuldigde onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit. Adv. Nicolette Bell, die provinsiale direkteur van openbare vervolging, het adv. Snyman en AO Louw vir hul werk om geregtigheid vir die oorledene en haar familie te bring, geprys en die vonnis verwelkom. “Die beskuldigde is ingevolge die toepaslike regsraamwerk gevonnis. In terme van die wet is 25 jaar gevangenisstraf die maksimum vonnis wat die hof in hierdie geval kon oplê. Ek is tevrede dat die saak afgehandel is en hoop dat hierdie vonnis ’n mate van afsluiting aan Deveney se moeder en familie bring. Geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord het geen plek in ons samelewing nie en my kantoor sal aanhou om sulke sake ywerig te vervolg, om geregtigheid vir slagoffers te verseker.”
Lees die slagoffer-impakverklaring van Lida Nel, Deveney se ma hier onder: (Vertaal van Engels na Afrikaans)
Ek is Lida Nel, die moeder van Deveney Nel. Sy is brutaal, doelbewus en koelbloedig vermoor. Vir my is daar geen versagtende omstandighede nie. Moord is die ergste ding wat enige mens kan doen. Tog dink ek sommige dae vir myself dat dit wat gebeur het, nie waar kan wees nie, want hoe kan iemand daaraan dink om ’n ander mens só seer te maak dat dit hul dood veroorsaak?
As mens het ek reeds my man verloor, die persoon wat ek gekies het om lief te hê en my lewe mee te deel, asook my pa, een van die mense wat my van geboorte af liefgehad het. Maar om jou dogter (of kind) aan iemand anders se hand te verloor, is die seerste pyn wat ’n ouer ooit kan ervaar. Die pyn is onbeskryflik; ek sal dit nooit ten volle kan beskryf of verwoord nie. Dit is ’n pyn waarvoor daar geen woorde bestaan nie, dit is onbeskryflik hartverskeurend.
Deveney, my dogter, was saggeaard, liefdevol, behulpsaam en vol empatie vir ander. Sy het altyd ander mense se gevoelens bo haar eie gestel, het opgestaan vir wat reg en verkeerd is. Sy was ’n besonderse mens en het haar hele lewe nog voor haar gehad. Sy wou verder studeer en ander help. Maar een monster het haar lewe kortgeknip en soveel smart veroorsaak dat hy dit nooit sal kan verstaan of besef nie.
Ek het nog altyd gesê ek wil nie net een kind hê nie, maar twee – en ek is geseën met twee dogtertjies wat van dag een af aan mekaar verbonde en liefdevol teenoor mekaar was. Jamie, Deveney se jonger suster, het iemand verloor wat veronderstel was om haar hele lewe lank aan haar sy te wees. Hulle het hul kinderdae, grappies en herinneringe gedeel wat net hulle verstaan het. ’n Suster is veronderstel om die langste verhouding te wees wat ’n mens het, van geboorte tot aan die einde van jou lewe. Wanneer daardie band verbreek word, laat dit ’n leemte wat nooit gevul kan word nie. Dit is nie net die verlies van ’n broer of suster nie; dit is die verlies van ’n deel van jou verlede én van die toekoms wat julle saam sou hê. Die moordenaar het Jamie se suster van haar weggeruk en haar van daardie toekoms beroof.
Die voorval het nie net my hele lewe tot stilstand gebring nie, maar ook dié van Jamie, my ma (Deveney se ouma), familie, vriende en selfs mense wat haar nie persoonlik geken het nie. Dit het my hele bestaan beïnvloed, my menswees en my moederskap. Ek is afhanklik van slaappille, want sonder medikasie slaap ek eenvoudig nie. Jou brein skakel nie af nie, jy kry geen rus ná ’n werksdag nie, en dit beteken jy is nooit uitgerus vir die volgende dag nie. Dit beïnvloed jou werkverrigting, om ten volle te konsentreer is onmoontlik. Dit raak ook jou verhoudings met kollegas, vriende en familie; dit voel asof jy nie meer die emosionele kapasiteit het om elke dag tussen mense te funksioneer nie. Dit word net te veel. Ek glo nie ’n mens kan ooit weer “normaal” funksioneer of aanbeweeg ná iets soos dit nie. Ek sukkel baie en weet nie of ek ooit weer regtig ek sal wees nie.
Wanneer jy deur die voorvalverslae en getuienis lees, sien jy dat my dogter ernstige beserings opgedoen het. Sy is brutaal en doelbewus aangeval en doodgesteek. Sy het vir haar lewe geveg. Sy moes vreesbevange gewees het, gewonder het of iemand haar sou vind en sy moes verskriklik alleen gevoel het. Daar was baie bloed. Ouers is veronderstel om oud te word en te sien hoe hul kinders blom, groei en suksesvolle volwassenes word. Om jou kind te sien aansoek doen vir ’n rybewys, haar te leer bestuur, saam haar matriekafskeid en troue te beplan, en eendag jou dogter se kinders, jou kleinkinders, te ontmoet. Ouers behoort nie hul kinders te oorleef nie. My dogter sou eendag vir my gesorg het wanneer ek dit nie meer self kon doen nie. Die beskuldigde se dade het my lewe vir altyd verander.