GAUTENG. – Die Ekurhuleni-metropolisie (EMPD) se Brakpan-beamptes het Dinsdag tydens ‘n plaaslike operasie, in samewerking met ander rolspelers, sowat 3 000 plakkershutte gesloop wat as onwettige strukture bestempel is. Vyf ongedokumenteerde verdagtes is in hegtenis geneem en ammunisie herwin.
Die EMPD sê in ‘n sosialemediaplasing die operasie het in Plastic City plaasgevind. Die departement van maatskaplike ontwikkeling en die departement van binnelandse sake se immigrasie-afdeling, bygestaan deur die EMPD- sosiale misdaadvoorkomingseenheid het met 13 vroue met kinders in gesprek getree oor plekke van veiligheid. Ander vroue het egter die hulp van die rolspelers van die hand gewys en aangedui dat hulle na ’n ander plakkerskamp sal trek.
Hoofsupt. Faith Buthelezi, Brakpan-metrostasiebevelvoerder, het rolspelers bedank wat hul tyd, hulpbronne en insette aan die operasie toegewy het. “Ek hoop dat hierdie produktiewe werksverhouding voortgesit sal word.”
Alle herwonne items is by die Brakpan-polisiekantoor ingeboek.




