LIMPOPO. – Vier Limpopo-polisiebeamptes en ‘n burgerlike wat op 10 Oktober in Mashishing (Lydenburg) op aanklag van inbraak in hegtenis geneem is, is Vrydag deur die Mashile-landdroshof borgtog van R2 000 toegestaan. Die verdagtes is as sers. Lucky Shogolo (40) en konst. Thapelo Ledwaba (34) van die Polokwane-blitspatrollie, konst. Malesela Huma (34) van die Mahwelereng K9-eenheid en konst. Saraphina Senama (34) van die Lebowakgomo-polisie, geïdentifiseer.
Lt.kol. Magonseni Nkosi, Valke-woordvoerder, sê in ‘n verklaring borgtog is toegestaan op voorwaarde dat die beskuldigdes nie die klaers se huis mag betree nie en nie met die klaers mag inmeng nie. Hulle is ook beveel om nie hul woonadresse te verander nie. Indien hulle gedwing word om te verhuis, moet die hof en die ondersoekbeampte 24 uur voor die verhuising ingelig word en die nuwe adres verstrek word.
Die beskuldigdes sal weer op 21 Januarie 2026 in die hof verskyn.





