KAAPSTAD – Die Stad Kaapstad se Water- en Sanitasie-afdeling het op 25 Februarie die stad se kontinuïteitsplanne om waterskaarste te voorkom, bekend gestel.
Die stad is reeds sedert Oktober 2025 op ’n vroeë droogtewaarskuwing. Damvlakke is tans op 55,4% en toon ’n weeklikse daling.
“Ons moet voorbereid wees,” het Tegniese Dienste-bestuurder, Lloyd Fisher, gesê.
Om die onvermydelike te voorkom, tref die departement voorsiening vir waterverskaffing op verskeie maniere en beoog om teen 2031 altesaam 300 miljoen liter water per dag by die stad se waterbronne te voeg.
Lees ook: https://nuusflits.com/kaapstad-se-vervanging-van-water-en-rioolpype-is-op-datum/
Huidige aktiewe projekte sluit in:
- die vervanging en herstel van waterpype
- grondwaterskemas
- die verwydering van indringerplante
- ander diverse watervoorsieningsprojekte, soos die hergebruik van water en die ontsouting van seewater


Die beraamde R5,5 miljard Faure-waterskemaprojek sal na verwagting ’n watertariefverhoging van 14% tot 15% meebring. Hierdie projek sal egter teen die finansiële jaar 2030/31 tussen 70 en 100 miljoen liter gesuiwerde, herwinde afvalwater per dag tot die watervoorraad bydra.
Sien ook: https://www.capetown.gov.za/Media-and-news/Council
Daar is tans geen sekerheid oor voldoende winterreën nie. Die volgende 90 dae sal Kaapstad se winterwatervooruitsig bepaal. Gebaseer op die huidige waterverbruik, kan damvlakke tot 40% daal. Die risiko van droogte kan beteken dat waterbeperkings teen November 2026 ingestel word. “Selfs vroeër indien nodig”, het Fisher gewaarsku.
Die Stad Kaapstad doen ’n beroep op alle inwoners om water spaarsamig te gebruik.
Besoek gerus http://www.capetown.gov.za/savewater vir wenke oor hoe om water te bespaar.





