Dis winter in Namakwaland!

Lees ook :

Laasweek het ek nog met my waaier aan geslaap om die muskiete weg te hou, en ewe skielik is daai vervang met ‘n warmkombers en verwarmer. Dis so koud hier op Springbok, dit smaak dit trek tot binne-in ‘n mens se gebeentes!

LEES MEER: Bereik jou drome deur tyd en konsekwentheid

Vandag besluit ek genoeg is genoeg, en ek tap vir my ‘n vuurwarm bad met lekker skuimpies en als wat nice is. Ek vat dit nog ‘n stappie verder en stoot my Cadac-gasverwarmer tot in die badkamer en laat loop hom vir so 10 minute voordat ek die waters inklim, net sodat ek nie moet koud kry as ek my klere uittrek nie.

Terwyl ek lekker agteroor lê, soos ‘n kreef wat in ‘n pot kook, besef ek hoe gelukkig ek is. Ek meen, ek’s glad nie ‘n ryk man in terme van finansies nie. My sente moet ek ook maar omdraai sodat die boeke aan die einde van die maand kan klop. Ek is wel ryk in dit wat belangrik is: my gesondheid, vriende en familie wat my lief het en ek vir hulle, en die belangriskte van als is die feit dat ek ‘n erfenis het vir die lewe hierna. Maar ryk of te not, ek besef toe hoe geseënd ek is om so in ‘n bad te kan lê. Daar is mense daarbuite wat nie daai voorreg het nie. Sommiges was in ‘n skottel in die koue, ander kan nie eens warm water bekostig nie.  

Ek lê en bedink my bevoorregte situasie terwyl die stoom hier rondom my opgaan, en besef net weereens hoe ongelooflik dankbaar ek is vir wat ek het. En ons vergeet mos so vinnig van ander as dit met ons goed gaan. Ek wonder hoeveel mense slaap vanaand koud terwyl ek met my drie komberse en warmkombers kan slaap. Ek dink ek kan meer vir my medemens doen as om net dankbaar te wees vir my eie geluk…

Dus bemoedig ek jou vandag om nie net raak te sien wat jy in die lewe het nie, maar ook om ‘n helpende hand uit te strek na iemand wat minder bevoorreg is. Of die persoon nou ‘n dronkaard, dwelmverslaafde of wat ook al mag wees, sy lyf kry daarbuite net so koud soos joune. En jy sal nooit weet wat die impak kan wees deur net ‘n goeie daad af en toe aan jou medemens te bewys nie.

Die winter is hier en dis koud, en ons het meer mense met warm harte in die wêreld nodig.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief