GAUTENG. – Die ongelukstoneel waar leerlinge vanoggend (Maandag) omstreeks 07:00 in ‘n botsing tussen ‘n private voertuig wat leerlinge vervoer het en ‘n vragmotor in Fred Drosteweg, Vanderbijlpark gesterf het, is deur Matome Chiloane, die Gautengse LUR vir onderwys, en Panyaza Lesufi, die Gautengse premier, besoek. Die dodetal het intussen na 13 gestyg.
Steve Mabona, woordvoerder vir dié departement, sê luidens ‘n verklaring 11 leerlinge is op die toneel dood verklaar, terwyl nog ‘n leerling later in die hospitaal aan beserings beswyk het. Die departement het pas die dood van nog ‘n leerling bevestig. Nog leerlinge het kritieke beserings opgedoen en ontvang behandeling by plaaslike hospitale. Die taxibestuurder is ook in die hospitaal opgeneem, terwyl besonderhede oor die vragmotorbestuurder nog nie bevestig is nie.
Lesufi en Chiloane het die toneel besoek om die situasie te beoordeel en met nooddienste in gesprek te tree. Die polisie ondersoek die omstandighede van die voorval.
“Dit is ’n moeilike dag vir die departement en die provinsie. Ons betuig ons meegevoel aan die families en skoolgemeenskappe wat geraak is, en doen ’n beroep op groter waaksaamheid by leerdervervoer, veral private vervoer,” het Chiloane gesê.





