KHAN YOUNIS, GASA. – Die dodetal ná Israel se dubbele aanval op die Nasser-hospitaal in Khan Younis het tot 20 gestyg.
Lees ook: Sowat 15 mense, insluitend joernaliste, dood in Israeliese aanval op hospitaal
Vyf joernaliste wat vir Reuters, AP, Al Jazeera en die Middle East Eye gewerk het, het in die aanvalle omgekom.
Volgens die WGO is vier gesondheidswerkers ook in die aanvalle dood. ’n Tweede aanval is deur Israel geloods toe ambulanse en reddingswerkers op die toneel aangekom het om mense te help wat in die eerste aanval gewond of dood is.
Die Israeliese eerste minister, Benjamin Netanyahu, het die aanvalle ’n “tragiese ongeluk” genoem en gesê weermagowerhede “is besig om dit te ondersoek”.
Husam al-Masri, ’n kameraman vir Reuters, was besig om op die dak van die hospitaal ’n lewendige TV-uitsending te doen toe die eerste aanval tref, waarna hy die uitsending gestop het. Hatem Khaled, ’n fotograaf van Reuters, is in die tweede aanval beseer.
Mariam Dagga, ’n vryskutjoernalis vir AP, het in die aanval omgekom, asook Mohammad Salama van Al Jazeera, Ahmed Abu Aziz van Middle East Eye en die fotograaf Moaz Abu Taha.
Gister se aanval volg slegs twee weke ná ses joernaliste, onder wie vier van Al Jazeera, in ’n geteikende aanval deur die Israeliese weermag naby die al-Shifa-hospitaal in Gasastad doodgemaak is.
Bronne: BBC, The Independent, Sky News
Lees ook: Sowat 15 mense, insluitend joernaliste, dood in Israeliese aanval op hospitaal





