KWAZULU-NATAL. – ’n 47-jarige manlike drawwer is Saterdag dood aangetref nadat hy glo by ’n wal langs die R102 in Ottawa afgeval het.
Volgens Reaction Unit South Africa (Rusa) is hulle omstreeks 08:00 na die toneel ontbied waar paramedici die man ondersoek het. Hy het beserings aan sy regteroog, asook bloeding by sy neus gehad. Die man was saam met sy vrou en nog ’n persoon aan die draf toe hy agtergeraak het. Toe hulle besef hy is nie meer by hulle nie, het hulle teruggegaan om hom te soek en hom sowat 20 meter teen ’n wal langs die pad af aangetref. Sy baadjie en pet is langs die veiligheidsrelings langs die pad gevind.
Die presiese oorsaak van sy dood is nog onbekend en ondersoeke duur voort.





