VRYSTAAT. – Die polisie se duikspanne soek steeds intensief na ‘n man (20) wat vermoedelik ‘n week gelede by ’n steengroef agter die Heidedal-winkelsentrum verdrink het.
Sers. Mahlomola Kareli, polisiewoordvoerder, sê die Bloemfontein- en Welkom-duikspanne van die polisie soek steeds overpoos na die man. Alle beskikbare hulpbronne is in die soektog ingespan, wat nou in die sewende dag is. Die slagoffer was op 16 Oktober saam met twee vriende by die steengroef om te swem toe hy in die water gespring het, vinnig oorweldig is en verdrink het. Die Heidedal-polisie is onmiddellik ontbied, waarna die Bloemfontein-duikspan se hulp ingeroep is. ’n Intensiewe soektog is rondom die plek waar die man die laaste keer gesien is geloods, maar tot dusver is daar nog geen teken van hom gevind nie. Die soektog duur steeds voort.
Die polisie versoek die gemeenskap om nie by die steengroef te swem nie, aangesien die water gevaarlik diep is en ’n ernstige risiko inhou.


