NOORDWES. – Drie verdagtes is Woensdag onderskeidelik op aanklagte van moord, ontvoering, lykskending en oortreding van die immigrasiewet in hegtenis geneem nadat Gontse Makhubela (20), wat as vermis aangemeld is, se verminkte, gedeeltelik verbrande en ver ontbinde liggaam is op 23 November 2023 by ’n vullisstortingsterrein in Elandskraal, Brits, gevind is.
Brig. Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder, sê volgens die ondersoek is die slagoffer deur een van die verdagtes (29) onder valse voorwendsels na haar dood gelok. Hy het opdrag van die tweede verdagte ontvang om ’n jong vrou te vind wat aan ’n spesifieke profiel voldoen, sodat haar organe vir moetie gebruik kon word. Die 38-jarige verdagte is ’n onwettige Mosambiekse tradisionele geneser. Volgens die polisie is die slagoffer op sy bevel ontvoer, vermoor, vermink en verbrand.
Deur volgehoue en deeglike ondersoek is twee verdagtes Woensdag in hegtenis geneem. Die verdagtes is positief aan die misdaad gekoppel nadat die polisie die oorledene se selfoon teruggevind het. Verdere ondersoek het gelei tot die arrestasie van ’n derde verdagte in Winterveldt in Gauteng, waar hy in besit van die oorledene se organe gevind is.
Benewens die moord, sal die eerste twee verdagtes aangekla word van ontvoering, die verminking of skending van ’n lyk, asook die oortreding van die immigrasiewet. Hulle het vandag in die Brits-landdroshof verskyn. Die derde verdagte, ook ’n tradisionele geneser van Mosambiek, sal Maandag in die Garankuwa-landdroshof voorkom.
Die ondersoek duur voort en verdere inhegtenisnemings word nie uitgesluit nie.