Brekende Nuus
Nuus

Vroue vas nadat hulle glo as OVK-beamptes voordoen

Foto: IEC

OOS-KAAP. – Twee vroue, onderskeidelik 57 en 61 jaar, is in hegtenis geneem nadat hulle hul na bewering as amptenare van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) voorgedoen en stemmateriaal by die Ngcobo-polisiekantoor probeer afhaal het.

Brig. Nobuntu Gantana, polisiewoordvoerder in die Oos-Kaap, sê die twee vroue het Maandag omstreeks 04:30 by die polisiekantoor opgedaag en beweer dat die voorsittende beampte hulle gestuur het om stemmateriaal af te haal. Die voorsittende beampte was egter reeds in die ry by die polisiekantoor en het niemand gestuur om die materiaal te gaan haal nie. Die verdagtes is geïdentifiseer voordat hulle die polisiestasie kon verlaat, waarna die stemmateriaal teruggehou is. Albei is Dinsdag in hegtenis geneem.

’n Saak is ingevolge artikel 68(d) van Wet 27 van 2000 geopen vir die beweerde voordoen as ’n OVK-amptenaar. Lt.genl. Vuyisile Ncata, provinsiale kommissaris van die polisie in die Oos-Kaap, het die voorval veroordeel en gesê inmenging met die verkiesingsproses sal nie geduld word nie.