Brekende Nuus
Nuus

Man en vrou van Ierland en Mosambieker sterf in ongeluk

Foto's: Departement van Gemeenskapsveiligheid, Sekuriteit en Skakeling

MPUMALANGA. – Drie mense is dood nadat ’n vragmotor Woensdagmiddag by ’n kruising naby Ngodwana in Mpumalanga met drie voertuie op die N4-tolpad gebots het. Die oorledenes is ’n man en vrou van Ierland en ’n Mosambiekse man.

Zandile Mavuso, woordvoerder vir die departement van gemeenskapsveiligheid, sekuriteit en skakeling, sê die vragmotor het op die D799 Kaapsehoop-pad gery toe dit na bewering die kruising gemis en met twee ligte afleweringsvoertuie en ’n sportnutsvoertuig op die N4 gebots het. Die Ierse man en vrou in die SUV en die bestuurder van een van die afleweringsvoertuie is op slag dood. Die bestuurders van die vragmotor en die ander afleweringsvoertuig is met ernstige beserings na die Kiaat-hospitaal geneem.

Nooddienste was op die toneel. Die omstandighede van die ongeluk word ondersoek.