GAUTENG. – Drie vermeende lede van ‘n sogenaamde blouligbende is Sondagaand op die N3 tussen Villiers en Heidelberg tydens ‘n skietery dood.
Brig. Brenda Muridili sê inligting is Sondagaand tydens ‘n operasie opgevolg. Na bewering het ‘n wit Toyota Hilux-bakkie op die N3 tussen Villiers en Heidelberg “blouligrowe” gepleeg. Die verdagtes is op die N3-hoofweg, by Grootvlei in Mpumalanga, opgemerk, met die blou ligte op die voertuig aan. Toe die verdagtes die polisie opmerk, het ‘n hoëspoedjaagtog in die rigting van Zonkizizwe in die Ekurhuleni-area gevolg. Die verdagtes het op die polisie geskiet, waarna die polisie teruggeskiet het en drie verdagtes noodlottig gewond het. Een verdagte het die polisie te voet ontvlug.
Twee ongelisensieerde vuurwapens, ammunisie, blou ligte en die voertuig van die verdagtes is gekonfiskeer.





