Mishandeling laat nie altyd ’n blou kol of ‘n sigbare besering nie. Dwangbeheer, emosionele mishandeling en sielkundige manipulasie kan ’n persoon se onafhanklikheid, selfvertroue en vermoë om besluite te neem, oor tyd ernstig ondermyn.
Mike Bolhuis van Specialised Security Services (SSS) waarsku in ’n nuwe bewusmakingsprojek dat dwangbeheer ’n patroon van gedrag kan wees waardeur een persoon ’n ander probeer oorheers, intimideer, isoleer of beheer. Dit kan onder meer insluit dat iemand voortdurend ’n persoon se bewegings dophou, toegang tot ’n selfoon of sosialemediarekeninge eis, kontak met familie en vriende beperk, geld beheer of dreigemente teenoor die persoon, kinders of troeteldiere maak. Emosionele en sielkundige mishandeling kan ook herhaalde vernedering, beledigings, intimidasie, dreigemente en manipulasie insluit. Een vorm van sielkundige manipulasie is gaslighting, waar iemand herhaaldelik probeer om ’n ander persoon sy herinneringe, persepsie of begrip van gebeure te laat bevraagteken.
Volgens Bolhuis kan dwangbeheer mettertyd ’n persoon se gevoel van onafhanklikheid afbreek. Slagoffers kan uiteindelik begin om hul eie gedrag aan te pas bloot om die ander persoon se woede of reaksie te vermy. Dwangbeheer kan ook finansiële beheer insluit. Dit kan gebeur wanneer ’n persoon beheer oor ’n slagoffer se salaris of bankrekening neem, verhoed dat die persoon werk of vir elke uitgawe rekenskap eis. Tegnologie kan die beheer verder uitbrei. Die monitering van ligging, boodskappe, sosialemedia-aktiwiteite en aanlynkontakte kan volgens SSS gebruik word om ’n slagoffer voortdurend dop te hou.
Suid-Afrikaanse wetgewing erken dat huishoudelike geweld veel verder as fisieke geweld strek. Die Wet op Gesinsgeweld 116 van 1998, soos gewysig, sluit onder meer emosionele, verbale of sielkundige mishandeling, ekonomiese mishandeling en beherende of mishandelende gedrag binne toepaslike huishoudelike verhoudings in. Slagoffers hoef dus nie noodwendig te wag totdat fisieke geweld plaasvind voordat hulle hulp soek nie.
Bolhuis waarsku dwangbeheer is nie liefde of beskerming nie. Dit kan ’n manier wees waarop een persoon geleidelik beheer oor ’n ander se lewe verkry.
Druk hier om meer te lees.