GAUTENG. – ‘n Beweerde dwelmmuil (33) wat Dinsdag na Brasilië onderweg was en glo inkopies vir ‘n komende troue wou doen, is op OR Tambo Internasionale Lughawe met 10 kg kokaïen vasgetrek.
Kapt. Lloyd Ramovha sê die Valke, in Germiston gebaseer, het op die niksvermoedende “reisiger” toegeslaan. ‘n Deursoeking van haar bagasie het die dwelmvonds onthul.
“Die waaksame span saam met Doeane en ‘n opsporingshond het die omgewing vir moontlike helpers en medepligtiges deursoek.”
Ramovha sê twee verdagtes is in die internasionale aankomssaal geïdentifiseer en dopgehou.
“Hulle is vir ondervraging na die polisiestasie gebring. Hulle het gesê hulle wag vir ‘n reisiger van elders, maar kon nie bewys daarvan lewer nie.”
Tydens ondervraging kon die polisie vasstel dat daar vir die beweerde dwelmmuil vanaf Mortherwell in Gqeberha gewag is.
“Die twee medepligtiges is albei Nigeriese burgers, onderskeidelik 37 en 52 jaar oud. Die drie sal op Donderdag 29 Augustus 2024 in die Kemptonpark-landdroshof verskyn.”