KWAZULU-NATAL. – Een persoon is Donderdagoggend ongeveer 07:00 dood en 35 beseer in ’n ernstige botsing tussen ’n vragmotor en ’n bus op die M25 KwaMashu-hoofweg, net voor die KwaMashu-afrit.
Garrith Jamieson van ALS Paramedics sê die vragmotor het na Durban gery, toe dit vermoedelik beheer verloor en oor die middelversperring in die pad voor die bus inbeweeg het. Paramedici van ALS Paramedics en KZN VIP het verskeie beseerdes op die toneel aangetref. ’n Triage is opgestel en ’n totaal van 35 persone is met uiteenlopende beserings geïdentifiseer. Verskeie ambulansdienste is ontbied om die beseerdes te stabiliseer en na verskeie hospitale in Durban te vervoer.
Die bestuurder van die vragmotor, vermoedelik in sy 50’s, was in die wrak vasgekeer en het noodlottige beserings opgedoen. Hy is op die toneel dood verklaar.
Die oorsaak van die ongeluk word deur die polisie ondersoek.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





