KWAZULU-NATAL. – ‘n Vrou is oorlede en ongeveer 60 persone beseer toe die vragmotor waarmee hulle vanoggend op pad werk toe was voor 07:00 op die Hella Hellapad buite Richmond in ‘n boom vasgery het.
Volgens Garrith Jamieson, woordvoerder vir ALS Paramedics, is hulle na ‘n chaotiese toneel van meervoudige ongevalle. Die vragmotor was onderweg na Ixopo, toe die bestuurder glo beheer verloor, dit van die pad geloop en teen ‘n boom gebots het.
“Ongeveer 60 werkers het beserings opgedoen. Verskeie ambulansdienste het gewerk om hulle op die toneel te stabiliseer voordat hulle vir verdere sorg na verskeie Pietermaritzburg- en Durban-hospitale vervoer is.”
‘n Vrou, vermoedelik in haar 50’s, is noodlottig beseer en sy is deur paramedici op die toneel dood verklaar.
“In hierdie stadium is die gebeure wat tot die ongeluk gelei het onbekend, maar die SAPD was teenwoordig en sal verder ondersoek instel.”





