Joha van Dyk is deesdae besig om golwe in die Afrikaanse literatuurwêreld te maak, veral onder jong volwassenes. Haar debuut Branderjaer het in 2020 by Human & Rousseau verskyn. Daarna het Vuurvreter en Kanniedood die boekemark getref.
Sy is van jongs af lief vir lees en stories vertel. “Ek kom van Namakwaland af en ons het ’n groot storievertelkultuur. Ek het grootgeword met my pa wat stories vertel, sowel as ander mense in ons gemeenskap.” Dit was op haar broer se oorgeboude rekenaar wat sy ’n Word-dokument oopgemaak en begin skryf het en net nooit opgehou het nie. “Boeke was nog altyd so ’n groot deel van my lewe, veral op die plaas waar ons afgeleë was en maats skaars was – boeke was ’n lekker vorm van ontspanning,” vertel sy.
Daar is twee oomblikke wat vir haar sover uitstaan in haar skryfloopbaan. Haar tweede boekbekendstelling by De Stomme Jonge – een van haar gunstelingrestaurante op Stellenbosch voor dit gesluit het. Dit het daardie aand gereën, haar gunstelingmense en lesers was daar en Danie du Toit van Spoegwolf het die gesprek gelei.
Met Vuurvreter, haar tweede boek wat veral op eetversteurings fokus, het sy besoek by ’n groot meisieskool afgelê. “Die praatjie het rof begin – ek was laat, ons kon nie die slideshow opgestel kry nie, die kinders het begin instroom en almal na my gekyk. Dit was veel meer mense as waaraan ek gewoond was, of so het dit gevoel. Ek was net so op my senuwees. En dit was in ’n tyd wat ek begin wonder het of ek goed genoeg is, of dit even saak maak dat ek skryf.”
Sy het aanvanklik gedink die praatjie het goed gegaan, totdat die kinders moes hande opsteek om te wys wie belang sal stel om boeke te koop. “Net een of twee het hulle hande opgesteek.” Haar verbasing was groot toe sy agter die verkooptafel gaan sit en ’n verskriklike lang ry gevorm het.
“Meeste van die meisies het Vuurvreter gekoop. Dit het my hart geraak, om te weet dat waarmee ek en mense om my op skool gesukkel het steeds so ’n kwessie in skole is. Dit was baie hartseer. Ons het nie genoeg boeke saamgebring nie en moes uit die Kaap en Somerset-Wes gaan haal het om die kinders se bestellings te vul. Maar dit was hoopvol. Dit het my herinner waarom ek hierdie doen.”
Joha beoefen stokperdjies soos verf, kitaarspeel, joernaal-skryf en tuinmaak en kom sodoende weg van sosiale media en haar rekenaar. Sy is tans besig met ’n PhD-graad. “Ek werk ook aan die vierde boek in die Branderjaer-reeks en wil graag aan ’n digbundel ook werk. Dit is moeilik om alles te balanseer – nou meer as ooit, dink ek. Maar ek het vir myself gesê ek moet nou my skripsie eerste klaarmaak en sodra hy klaar is, gaan ek skryf dat die biesies bewe. Gelukkig gaan my skripsie oor Namakwaland, die dorp waar ek grootgeword het, die natuur en die storievertellery wat so eie is aan Namakwalanders. Dit voel asof ek iets kan terugploeg in die gemeenskap en area wat my geskep het en dit sal altyd die moeite werd wees.”
Joha skryf oor dinge wat vir haar belangrik is, oor haar ervaringe en mense na aan haar. Deur haar skryfwerk wil sy jong volwassenes laat voel dat hulle nie alleen is nie. Haar skryfwerk fokus hoofsaaklik tot dusver op boeliegedrag, eetversteurings, geestesgesondheid, dwelmgebruik, familiekwessies en rassekwessies.
Verder is Joha passievol oor die kopiereg-debakel wat deesdae ’n probleem is. Sy noem lesers kan eerder by biblioteke aansluit waar hulle gratis toegang tot Libby kan kry, waar hulle gratis na boeke kan luister of boeke kan lees. Volgens haar is tweedehandse boekwinkels ook definitief ’n beter opsie as om boeke onwettig te versprei.
Sy leef gebalanseerd deur haarself nie te oorlaai met werk nie en ook genoeg tyd vir haar stokperdjies, familie, vriende en kêrel te maak. “Jy moet onthou dat jy nie ’n masjien is nie, jy is ’n mens – jy gaan nie altyd ’n lekker dag hê met werk nie, dit gaan nie altyd maklik kom nie, jy moet soms elbow grease insit, maar dit is ook belangrik om vir jouself daai grace te gee om te ontspan, tyd met jou mense en met jouself te spandeer buite projekte.”
Joha moedig aanhangers aan om hulle drome na te jaag. “Moet nooit toelaat dat vrees jou keer wanneer jy jou drome najaag nie. Dikwels, wanneer ons bang of skrikkerig is, is dit net omdat dit baie vir ons beteken, maak jou oë toe en freefall.”
Besoek gerus Joha se sosiale bladsye by die volgende skakels:


[elementor-template id=”231777″]