KWAZULU-NATAL. – Een persoon het gesterf en nog vier het Sondagmiddag skietwonde opgedoen toe ‘n skietery in Adelaide Tambo-rylaan in Durban-Noord uitgebreek het.
Lt.kol. Robert Netshiunda sê ‘n soektog is geloods om die verdagte op te spoor na die skietery by ‘n huis.
Vier vroue het in die sitkamer van die huis wat hulle huur, gesit. ‘n Man het opgedaag en hulle het ‘n geleentheid na ‘n winkelsentrum gevra. Met dié wat hulle in die voertuig klim, het nog ‘n man uit die huis gekom en op hulle geskiet. Een vrou is noodlottig gewond en die ander vroue kritiek gewond. Die man is ongedeerd.
Die motief van die skietery word ondersoek.
Garrith Jamieson van ALS Paramedics sê net na 15:00 is verskeie oproepe vir hulp ontvang.
Met aankoms op die toneel is assesserings gedoen en een persoon is dood verklaar. Vier ander persone is kritiek beseer en eers op die toneel gestabiliseer voordat hulle met verskeie ambulanse na nabygeleë hospitale gehaas is.





