KWAZULU-NATAL. – Een persoon het vroeër (Dinsdag) gesterf en vier is beseer toe ‘n struktuur ineengestort het waarop hulle by ‘n gewilde winkelsentrum in Springfield Park, Durban, gewerk het. Vyf mans het sowat ses meter hoog op ‘n steier gewerk toe dit meegegee en hulle na benede geval het.
Garrith Jamieson van ALS Parmamedics sê dié diens het hulle net voor 11:30, na talle oproepe oor ‘n strukturele ineenstorting by ‘n winkelsentrum in Umgeniweg, na die toneel gehaas. Ambulanse, asook gevorderde lewensondersteunende paramedici, is ontbied om bystand te verleen. Paramedici het vyf mans, tussen 25 en 40 jaar, op die toneel geassesseer. Een man het ernstige beserings opgedoen en is op die toneel dood verklaar. Die oorblywende vier beseerdes het matige tot kritieke beserings opgedoen. Hulle is op die toneel gestabiliseer en daarna na die Ahmed Al-Kadi privaat hospitaal vervoer.
Die oorsaak van die voorval is in hierdie stadium onbekend. Die SAPD was op die toneel en ondersoek die saak verder.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





