WES-KAAP. – ’n Mediese mylpaal is bereik toe ’n span spesialiste Woensdag by die UCT Private Academic Hospital vir die eerste keer in Suid-Afrika krioablasie gebruik het om ’n spesifieke vorm van skildklierkanker te behandel.
Volgens ‘n plasing op die Cape Town Interventional Radiology se sosiale media is die prosedure deur dr. Gercois Human, dr. Jateel Kassim, dr. Gareth Bydawell en die radiologie-span uitgevoer. Krioablasie is ’n minimaal indringende tegniek waar kankerselle met behulp van beeldgeleiding met uiters lae temperature gevries en vernietig word.
Die behandeling is toegepas op ’n pasiënt by wie papilêre skildklierkanker teruggekeer het, selfs nadat die oorspronklike gewas chirurgies verwyder is. In hierdie geval het sekondêre gewasse in ander dele van die liggaam ontwikkel, wat verdere behandeling vereis het. Die gebruik van krioablasie in sulke gevalle bied nuwe hoop vir pasiënte, aangesien dit minder ingrypend is as tradisionele chirurgie en meer gerigte behandeling moontlik maak.
Hierdie ontwikkeling word as ’n belangrike stap vorentoe vir kankerbehandeling in Suid-Afrika beskou en beklemtoon die groei van gevorderde mediese tegnologie in die land. Krio– is afkomstig van die Griekse woord kryos, wat “ys/koud” beteken en ablasie beteken die verwydering of vernietiging van weefsel.




