Verhoogde tariewe vir elektrisiteit is nie vreemd nie, maar verhoging wat Suid-Afrikaners moontlik in die 2026 tot 2028 finansiële jaar hard gaan tref, is in die pyplyn.
Volgens beriggewing het Eskom ‘n aansoek vir verhogings van tot 44% aan Nersa (Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika) gebring. Verbruikers sal moontlik reeds in April 2025 die effek aan hulle sakke en krimpende inkomste kan voel.
Daily Maverick het glo die vertroulike dokument wat Mei 2024 gedateer is, onder oë gehad. Eskom se beoogde inkomste is ook in die dokument uiteengesit. Vir die aansoek moet prosesse gevolg word, die publiek se kommentaar gevra word en ‘n verhoor die gemiddelde prys van elektrisiteit bepaal.
Vir diegene wat nie elektristeit van ‘n munisipaliteit ontvang nie is die voorgestelde tariewe vir 2026 ‘n verhoging van 36.15%, in 2027 is dit nog 11.81% en in 2028 ‘n verdere 9.10%.
Verbruikers wat van munisipale elektrisiteitsvoorsiening afhanklik is se voorgestelde tariewe is ‘n allemintige 43.55% vir 2026, vir 2027 ‘n verdere 3.36% en in 2028 ‘n verdere verhoging van 11.07%
Goedgekeurde tariewe sal glo reeds op 1 April 2025 effektief wees.
Volgens Business Tech kan dit ‘n huishouding met ‘n gemiddelde elektrisiteitsgebruik van 900kWh R1 600 ekstra ‘n maand kos.
Bronne: Cape Town Etc, Daily Maverick, Business Tech en eNCA





