GAUTENG. – Sewe werknemers van die Emfuleni- plaaslike munisipaliteit is in hegtenis geneem nadat hulle glo geld van inwoners gevra het om elektrisiteit wat deur die munisipaliteit afgesny is, weer onwettig aan te sluit.
Brig. Athlenda Mathe, die nasionale polisiewoordvoerder, sê die provinsie se politieke-moorde-taakspan (PKTT) het Vrydag vyf verdagtes tydens ’n operasie in Vanderbijlpark in hegtenis geneem. Volgens die polisie is hulle werknemers van die munisipaliteit se invorderings- en elektrisiteitsdepartemente. Die polisie sê voorlopige ondersoeke dui daarop dat die verdagtes hulself glo valslik aan munisipale kliënte voorgedoen het as gemagtigde amptenare wat elektrisiteit wat weens wanbetaling afgesny is, kon heraansluit. Kliënte is glo opdrag gegee om verskeie bedrae geld direk in die verdagtes se bankrekeninge te betaal in ruil vir die onwettige heraansluiting van hul elektrisiteit. Die PKTT het Sondag nog twee werknemers van die betrokke departemente in hegtenis geneem.
Al sewe verdagtes sal na verwagting vandag in die Vanderbijlpark-landdroshof verskyn. Die ondersoek duur voort en die polisie sê verdere inhegtenisnemings word verwag.