Erflating van R50 m. vir US-studente

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie Canva

WES-KAAP. – ‘n Ongeïdentifiseerde donateur het ‘n erflating van R50 miljoen aan die Universiteit Stellenbosch se teologie- en musiekdepartemente nagelaat.

Martin Viljoen, woordvoerder van die US, sê voorgraadse sowel as nagraadse studente van beide die fakulteite sal by hierdie reuse-erflating baat vind.

Finansieel benadeelde studente sal volgens Hugo Steyn, die waarnemende direkteur van skenkings aan die US, met beurse gehelp kan word.

Die erflating word belê en daar sal volgens beplanning reeds vanaf 2025 daarby baat gevind kan word.

Prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier, sê die studente wat hierby gaan baat vind, sal hulle drome kan nastreef.

Lees die universiteit se volledige verklaring hier onder:

Donateur laat R50 miljoen aan die Universiteit Stellenbosch na

Die toekoms lyk rooskleurig vir talentvolle voorgraadse en nagraadse studente aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Teologie en Musiekdepartement danksy ʼn reuse-erflating van R50 miljoen wat in ʼn donateur se laaste testament aan die Universiteit bemaak is.

“Ons praat gereeld oor die transformatiewe mag van gee – en hier sien ons dit in aksie,” sê Karen Bruns, Senior Direkteur: Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge aan die US. “Die donateur het gekies om anoniem te bly en, hoewel ons daarvan sou gehou het om die naam van hierdie persoon met hierdie toekomsvisie in die openbaar te noem en te vereer, sal ons hulle wens respekteer,” sê Bruns. “Ons is egter ongelooflik dankbaar. Hierdie wonderlike geskenk van opvoeding sal ongetwyfeld sorg vir ʼn blywende nalatenskap.”

Volgens Hugo Steyn, die US se Waarnemende Direkteur: Vername Skenkings, is die R50 miljoen spesifiek geoormerk vir beurse aan finansieel-benadeelde voorgraadse en nagraadse studente aan die Fakulteit Teologie en die Departement Musiek.

“Die geld sal belê word en ʼn volhoubare jaarlikse inkomstestroom skep waarby talle teologie- en musiekstudente in die toekoms sal baat vind. Die eerste rondte van finansiering sal binnekort beskikbaar wees en ons behoort vanaf 2025 beurse te kan toeken,” verduidelik Steyn.

“Beursprogramme is van kardinale belang om toegang tot hoër onderwys te bied. Hierdie programme oorbrug die finansiële gaping vir talentvolle studente en verseker sodoende dat hulle potensiaal nie weens ekonomiese beperkings verlore gaan nie,” voeg hy by.

“Godsdienstige gemeenskappe speel steeds ‘n deurslaggewende rol op ons vasteland en spesifiek om geregtigheid, vrede en genesing te bewerkstellig. Dit het by tye in hierdie roeping gefaal deur bloot sy eie belange te dien. Hierdie skenking sal verseker dat die nougesette studie van hierdie gemeenskappe en die vorming van die leiers daarvan in dialoog met al die verskillende wetenskappe en verskillende wêreldbeskouings plaasvind, ten einde die gemeenskaplike belang te dien. Die skenker moet geloof word vir hierdie nalatenskap vir geslagte wat kom. Dit sal ‘n diep spoor in ons land en op ons vasteland laat,” sê prof Reggie Nel, Dekaan van die Fakulteit Teologie.

Volgens prof Mario Nell, voorsitter van die Departement Musiek, is beurse vir studie in musiek baie belangrik. “Dit help om finansiële struikelblokke uit die weg te ruim, bevorder gelyke geleenthede en help met die bevordering van uitnemendheid in die musiekkunste. Beurse kan ondersteuning bied aan toegewyde studente om hulle volle potensiaal te ontsluit, en uiteindelik die breër gemeenskap met hulle talent verryk, wat bydra tot maatskaplike samehorigheid deur middel van kulturele aktiwiteit – ‘n visie wat ons by die US Musiekdepartement as noodsaaklik beskou.”

Prof Wim de Villiers, die US se Rektor en Visekanselier, het sy waardering vir die donateur se vrygewigheid uitgespreek. “Hierdie skenking aan ons Universiteit sal talentvolle studente in staat stel om hulle teologiese en musikale doelwitte na te streef sonder finansiële bekommernisse. Die donateur se visie en onwrikbare toewyding aan hoër onderwys in Suid-Afrika is ʼn inspirasie.”

Martin Viljoen

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief