GAUTENG. – Roland Janse van Rensburg (5) is in die Life Suikerbosrand-hospitaal in Heidelberg opgeneem nadat hy ernstig beseer is toe hy op ’n rugbybal gegly en sy kop hard gestamp het. Sy familie probeer alles in hulle vermoë om hom in ‘n privaathospitaal te hou.
Volgens Marizel Janse van Rensburg, Roland se mamma, het daar kort ná die val bloed en serebrospinale vloeistof uit sy oor begin lek. Hy is na Suikerbosrand-hospitaal in Heidelberg geneem waar toetse bevestig het dat hy ’n gevaarlike skedelfraktuur opgedoen het. Volgens sy ma se jongste sosialemediaplasing wag dokters nog vir die uitslae van Roland se bloedtoetse. X-strale het bevestig dat sy nek nie gebreek is nie. Hy is tans op ’n drup met aggressiewe antibiotika en Epilim om epileptiese aanvalle en breininfeksie te voorkom, asook anti-inflammatoriese en pynmedikasie. Mediese personeel monitor hom noukeurig vir enige verdere bloeding of vloeistoflekkasie by die oor, terwyl swelling tans verhinder dat ’n oor-, neus- en keelspesialis hom ondersoek.
Roland, ’n leerder aan Laerskool Tinie Vorster in Nigel, wat nie ‘n lid van ‘n mediese fonds is nie, benodig verdere mediese sorg. ‘n Skarebefondsingsblad is enkele dae gelede geopen waar reeds meer as R130 000 ingesamel is. Familielede het ook gevra dat die gemeenskap Roland in hul gebede sal hou vir ’n volledige herstel.
Mari van Deventer sê op die Swellendam Online Facebook-blad: Goeienaand almal, ons familie moet noodgedwonge ‘n beroep doen op die gemeenskap vir julle hulp asseblief. Hierdie is my seuntjies se nefie, Roland Janse van Rensburg. Hy is in Tinie Vorster in gr. RR in Nigel. Hy het op ‘n rugbybal probeer staan en dit het onder hom uitgegly. Hy het sy koppie hard gestamp en daar het dadelik bloed en serebrospinale vloeistof by sy oortjie begin uitlek Hulle is met hom Suikerbosrand-hospitaal toe in Heidelberg en hy is opgeneem. Hulle is nog besig met toetse, maar daar is bevestig hy het ‘n baie gevaarlike skedelfraktuur (Complex otic capsule-violating (OCV) base of skull fracture). Hulle het nie medies nie en fondse om hom in ‘n privaat hospitaal te hou, is op! As enigiemand dalk ‘n donasie wil of kan maak, al is dit hoe klein, hieronder is sy BACKABUDDY account. Asseblief hou hom in julle gebede dat sy swelling sal afkom en hy volkome sal genees!! Ons almal bid en vertrou ons Vader vir ‘n wonderwerk. Baie dankie byvoorbaat en mag ons Vader elkeen seën wat hul harte oopmaak vir ons klein Roland!
Druk hier om die skarebefondsingsblad/BackaBuddy te besoek.






