SPANJE, MADRID. – Spaanse polisie het Europa se grootste kokaïenbeslaglegging ooit aangekondig nadat 27 ton van dié dwelm ter waarde van meer as £700 miljoen op ‘n skip naby die Kanarie-eilande onderskep is.
Lede van die Guardia Civil, Spanje se elite-misdaadondersoekeenheid, het op 1 Mei aan boord gegaan van die 90 meter lange skip, die Arconian, wat onder die vlag van die Comoro-eilande geregistreer is. Spanje se Hooggeregshof het bevestig dat 27 215 kilogram kokaïen aan boord gevind is, met ‘n straatwaarde van meer as £700 miljoen, wat ongeveer R16 miljard is. Al 23 lede van die skip se bemanning is sonder borgtog aangehou, aangesien die hof die erns van die beweerde misdade, vlugrisiko’s en die moontlikheid van verdere kriminele aktiwiteite in ag geneem het. Ses bemanningslede van Nederland en Suriname is deur speurders aan boord versteek aangetref. Die oorblywende 17 bemanningslede was almal van die Filippyne afkomstig. Hierdie beslaglegging oortref die vorige Europese rekord van 22 700 kilogram kokaïen wat in Junie 2024 in Hamburg, Duitsland, in beslag geneem is. Dit is ook meer as dubbel Spanje se eie rekord van 11 800 kilogram wat verlede jaar tussen ‘n vrag piesangs by Algeciras in Suid-Spanje gevind is.
Speurders glo die dwelms sou deur snelbote die Spaanse kus bereik het. Die Arconian het op 22 April 2026 Freetown, die hoofstad van Sierra Leone, verlaat voordat dit deur die Guardia Civil in die Noord-Atlantiese Oseaan, tussen die kus van Noord-Afrika en die Kanarie-eilande, onderskep is.
Bronne: Spain in English, Sky News, Marytime Cyprus, Borderland Beat, Irish Independant





