VSA. – George Frederick Filmalter (26), wat Eric genoem is, het op 28 November tydens ‘n skietvoorval gesterf waar hy in Goldfield, Iowa gewoon het. Dit is sy familie se wens om hom in sy geboorteland te begrawe sodat sy naasbestaandes hom kan groet. Filmalter was van George in die Tuinroete en was in Hoërskool Outeniqua.
Laurette Grobler, Eric se suster, sê aan Nuusflits die familie se harte is so seer, maar elke boodskap en uitreik na hulle hou hulle staande.
Filmalter het in Suid-Afrika grootgeword, waar hy sy kinderjare saam met neefs en niggies deurgebring het. Hy is op 8 Februarie met sy eggenote, Manisha, getroud. Sy familie beskryf hom as iemand wat baie na aan sy broers, suster, moeder en uitgebreide familie was.
Volgens die familie sal dit sowat R300 000 kos om Filmalter se oorskot na Suid-Afrika te bring. Daar is reeds ongeveer R53 000 daarvoor ingesamel. Omdat Filmalter nie versekering gehad het wat die uitgawes dek nie, doen hulle ’n beroep op die publiek om die proses moontlik te maak en is ‘n skarebefondsingsprofiel geopen. Indien daar geld oorbly, beplan die familie om dit aan Manisha se studies te bestee.
Die fondsinsameling word deur Grobler gekoördineer. Sy kan by 083 601 5721 gebel word.
Humboldt County Sherrif is ná 20:00 op die betrokke aand deur ‘n 911-oproep na die Goldfield-woning ontbied. Filmalter was in die eetkamer, maar nie alleen nie. Hy het ‘n handwapen hanteer wat hy glo gedink het nie gelaai was nie. ‘n Skoot het afgegaan en Filmalter het aan ‘n skietwond beswyk. Geen gemene spel is vermoed nie. Ondersoekers glo ook nie dat Filmalter homself wou beseer nie.

Bronne: BackaBuddy, Matt Scher – The Bolt, The Daily Freeman-Journal, KCCI, National Gun Violence Memorial, KLGA Hometown Radio





