LIMPOPO. – Morudi Frank Phetla, ‘n verpleegkundige van Jane Furse, is in Maart ontvoer en vermoor. Drie verdagtes, insluitend ‘n 60-jarige vroulike familielid van die oorledene, sal vandag in die Nebo-landdroshof verskyn.
Kol. Malesela Ledwaba sê die verdagtes staan op aanklagte van ontvoering, sameswering om moord te pleeg en moord tereg. ‘n Vrou (49) en ‘n man (42) is Maandag tydens ‘n gesamentlike intelligensiegedrewe operasie in Gauteng, onderskeidelik in Kempton Park en Tembisa, in hegtenis geneem. Daarna is ‘n vrou (60) in Jane Furse in hegtenis geneem.
Phetla is op 16 Maart buite sy woning in die Zamane-afdeling van Jane Furse ontvoer. Sy voertuig is later met die enjin wat nog loop en ligte aan gevind, maar hy was vermis. ‘n Ontvoeringsaak is geopen. Sy liggaam is omstreeks 06:30 op 17 Maart deur ‘n herder onder die Mabintana-brug met noodlottige kopbeserings aangetref. Die motief vir die moord is nog onbekend, maar die ondersoek duur voort.
Lt.genl. Thembi Hadebe, provinsiale kommissaris van polisie in Limpopo, het die vinnige en gesamentlike optrede van die ondersoekspan geloof. Sy het bygevoeg: “Geen steen sal onaangeroer gelaat word om al die omstandighede rondom hierdie grusame misdaad te ontbloot nie.”
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





