WES-KAAP. – ’n FlySafair Boeing 737 het veilig op George-lughawe geland, nadat ’n tegniese probleem aangedui is. Die bemanning het die normale landingsprosedure gestaak, die nodige kontrolelyste voltooi en ’n “PAN” aan lugverkeerbeheer verklaar.
Kirby Gordon van FlySafair het aan Nuusflits bevestig dat vlug FA222 van Johannesburg na George die probleem ervaar het, waarna die vliegtuig voorkeur vir landing gekry en lughawe-nooddienste as voorsorgmaatreël op bystand geplaas is. Die vliegtuig het normaal geland en alle passasiers het sonder voorval afgeklim. FlySafair sê die vliegtuig is daarna na Kaapstad verskuif vir inspeksie en instandhouding en sal eers na kommersiële diens terugkeer nadat die nodige tegniese werk voltooi en dit vir bedryf goedgekeur is.
Volgens George Aviation het ’n FlySafair Boeing 737-8EH met registrasienommer ZS-FGD op 19 September by George geland met wat soos ’n probleem met die uitvou van die flappe gelyk het. Die landingsgestel was uit, terwyl die flappe volgens die foto’s nie uitgevou gelyk het nie. George Aviation het berig dat ’n “PAN” verklaar is en dat ’n ander inkomende vliegtuig in ’n wagpatroon bo Mosselbaai gehou is om ZS-FGD voorkeur vir landing te gee.
Verskeie reddingseenhede is op bystand geplaas, waaronder een by Alpha 2 wat die vliegtuig ná landing langs die aanloopbaan gevolg het. Die vliegtuig het veilig geland en kort daarna op eie krag getaxi.