Die Nasionale Verbruikerskommissie (NVK) het verbruikers in kennis gestel van ’n produkherroeping wat van toepassing is op die volgende Ford-voertuie: Ford Ranger, Everest, EcoSport en Puma.
Luidens die verklaring het die Ford Motor Company of Southern Africa sekere 2022- tot 2025-modelle van die Ranger- en Everest-voertuie, spesifiek die Wildtrak- en Platinum-weergawes wat met 3.0L Lion-enjins toegerus is, herroep. Dié ligte handelsvoertuie mag ’n ernstige meganiese gebrek hê.
In die geval van die Ford Puma, wat tussen November 2021 en September 2024 vervaardig is, kan ‘n meganiese fout mettertyd tot ’n brandstoflekkasie lei, wat weer enjinstilstand of selfs ’n brand tot gevolg kan hê.
Die herroeping van Ford EcoSport-voertuie raak modelle van 2021 tot 2022 met 6F15- outomatiese ratkaste. In sommige van hierdie voertuie is die voorste halfasse moontlik nie volledig in die ratkas gemonteer nie. Indien die halfas loskom, kan die voertuig tydens bestuur enjinkrag verloor. As die voertuig in park geplaas word sonder om die parkeerrem op te trek, kan die voertuig vorentoe rol.
“Gegewe die risiko wat met die gemelde gebreke gepaardgaan, word verbruikers wat enige van hierdie voertuie besit, dringend versoek om met hul naaste gemagtigde Ford-handelaar in aanraking te kom vir ’n inspeksie en, indien nodig, herstel teen geen koste nie,” het die waarnemende kommissaris, Hardin Ratshisusu, gesê.
Die betrokke voertuie is landswyd in Suid-Afrika verkoop.







