FRANKRYK. – ’n Franse paar wat meer as drie jaar in ’n Iranse tronk op aanklagte van spioenasie aangehou is, is op pad huis toe, het die Franse president, Emmanuel Macron, gesê.
Volgens CNA is Cécile Kohler (41) en Jacques Paris (72) in Mei 2022 as toeriste in hegtenis geneem op aanklagte van spioenasie wat Frankryk as ongegrond bestempel het. Hulle is aangehou in Teheran se berugte Evin-tronk.
Die paar is in November 2025 vrygelaat en was sedertdien onder huisarres by die Franse ambassade in die Iranse hoofstad, Teheran.
“Dit is ’n verligting vir ons almal en uiteraard vir hul families,” het Macron Dinsdag op X geskryf. Hy het ook Oman bedank vir hul bemiddelingspogings.
Frankryk se minister van buitelandse sake, Jean-Noël Barrot, het nie besonderhede oor die paar se bewegings bekend gemaak nie, maar gesê hulle is “uiteindelik vry” en dat hy telefonies met hulle gepraat het.
“Hulle het my vertel van hul emosie en vreugde om binnekort met hul land en geliefdes herenig te word,” het hy op X geskryf.
’n Iranse hof het Paris tot 17 jaar en Kohler tot 20 jaar tronkstraf gevonnis weens beweerde spioenasie vir Frankryk en Israel.
Hulle is vrygelaat nadat Iran se minister van buitelandse sake, Abbas Araghchi, gesê het ’n ooreenkoms om Franse aangehoudenes te ruil vir ’n Iranse vrou, Mahdieh Esfandiari, is byna afgehandel. ’n Bron in Macron se kantoor het egter gesê Esfandiari is ’n “afsonderlike saak” en het aangedui dat sy appèl aangeteken het, sonder om verdere besonderhede te gee.
Bronne: CNA, AFP





