Die Gautengse polisie berei ‘n grootskaalse ontplooiing van gespesialiseerde eenhede voor met die oog op verwagte betogings teen ongedokumenteerde migrante op 30 Junie. Eenhede vir openbare-orde-polisiering, taktiese reaksie, berede patrollies, en die honde-eenheid sal op bystand wees as deel van ‘n provinsiewye gebeurlikheidsplan.
Brigadier Mark Joseph, Gauteng se provinsiale hoof van sigbare polisiering, sê die ontplooiing begin op die aand van 29 Junie, met deurlopende verslagdoening oor ontwikkelinge. “Wetstoepassing sal elke situasie op sy eie meriete hanteer,” het hy gese. Joseph se intelligensie-operateurs verskaf bruikbare inligting aan operasionele bevelvoerders sodat enige voorval vinnig hanteer kan word.
Die operasie kan op 1 Julie eindig indien daar geen voorvalle is nie. Die SAPD het intussen ‘n omstrede plakkaat wat beweer alle onwettige buitelanders moet die land teen 30 Junie verlaat, as vals bestempel. Die regering het geen sodanige opdrag uitgereik nie.





