Daar sal komende naweek geen Airlink-verbyvlug wees nie. Dit nadat die lugdiens sy aansoek vir ’n derde verbyvlug teruggetrek het. Die Springbokke speel Saterdag teen die All Blacks in die derde wedstryd van vier in die Rugby’s Greatest Rivalry-reeks in die FNB-stadion in Johannesburg.
Sisa Majola, Burgerlugvaartowerheid-woordvoerder, sê die verbyvlug wat op 29 Augustus voor die Springbokke se wedstryd teen die All Blacks plaasgevind het, word deur die owerheid ondersoek. Airlink het drie aansoeke vir verbyvlugte ingedien, waarvan die betrokke vlug die tweede was. Die aansoek is goedgekeur nadat die vereiste dokumentasie ingedien is, asook ’n simulatoroefening en veiligheidsinligtingsessie. Die Burgerlugvaartowerheid het ná die voorval met Airlink in gesprek getree en versoek dat vlugdata en verdere inligting verskaf word. Die inligting word tans ontleed en ’n volledige verslag met aanbevelings sal volg.
Die BLO sê veiligheid en sekuriteit bly ’n prioriteit en dat die voorval ondersoek moet word om enige veiligheidskwessies te identifiseer.