NOORDWES. – Hoër Volkskool Potchefstroom rou oor die dood van Hugo Nolte, ’n geliefde graad 11-leerling wat Saterdagaand in ’n motorfietsongeluk oorlede is. Hugo is intussen gepas met ‘n motorfiets-huldeblyk by die skool gegroet.
Die skool het die nuus met groot hartseer en skok bekend gemaak en hul meegevoel met Hugo se familie, vriende en almal wat hom geken het, uitgespreek. Hugo sal volgens die skool se plasing onthou word vir sy glimlag, vriendelikheid en die rol wat hy as vriend, seun en broer in ander se lewens gespeel het.
“Met groot hartseer en skok deel ons mee dat Hugo Nolte, een van ons graad 11-leerders, gisteraand tragies in ’n motorfietsongeluk oorlede is. Ons verstaan nie altyd waarom sulke dinge gebeur nie, maar ons hou vas aan die wete dat God steeds in beheer is en ons in Sy hande dra, selfs in tye van groot verlies. Ons innige meegevoel gaan uit na die Nolte-familie, Hugo se vriende en almal wat hom geken en liefgehad het. Mag julle troos, krag en vrede vind in die dae wat voorlê. Ons dra julle op in ons gebede. “Die Here is naby die gebrokenes van hart, en Hy verlos die wat verslae is van gees.” – Psalm 34:19
Die skool het Dinsdag vir Hugo gegroet: “‘n Brokkie van ons Volkies-hart is weg… Vandag het ons as skoolgemeenskap stil geraak en die lewe van Hugo Nolte gevier. Ons het gedink aan sy glimlag, sy vriendelikheid, die goeie vriend, geliefde seun en boetie wat hy was. Die herinneringe wat hy agterlaat, sal altyd deel van ons bly.”


