OOS-KAAP. – Die polisie het ‘n mannejag geloods nadat ses gemeenskapspatrolleerders Sondagaand in ‘n lokval doodgeskiet is. Nog vier is geskiet en gewond.
AO Majola Nkohli sê die misdaad het by die Lugongozo Junior Secondary School in Tina Falls, naby Qubu gebeur. Na bewering het ‘n groep van ten minste agt verdagte mans met handwapens en gewere op die gemeenskapspatrolleerers losgetrek. Ses van die slagoffers het gesterf en vier is na ‘n nabygeleë hospitaal gehaas.
“Daar word gesê die patrolleerders was by ‘n plaaslike skool en het vir hulle aandpatrollies voorberei toe hulle aangeval is. Die verdagtes is steeds op vrye voet. Die motief vir die skietery is in hierdie stadium onbekend.”
Enigiemand met inligting word versoek om na vore te kom en 082 301 7762 te bel.
Lt.genl. Nomthetheleli Mene het die sinnelose en brutale lokval veroordeel: “Ons het maksimum hulpbronne gemobiliseer en is bekommerd dat diegene wat saam met die polisie werk en hulle bystaan, geteiken en aangeval word. Ons sal ons bes doen om te verseker dat diegene wat agter hierdie massaskietery was, aangekeer word. As polisiediens veroordeel ons hierdie voorval en betuig ons medelye met die families van die oorledenes. Ons wens ook diegene wat beseer is ‘n spoedige herstel toe.”




