WES-KAAP. – Die George- munisipale raad het die proses aan die gang gesit vir die ontwikkeling van twee nuwe grootmaat-drinkwaterreservoirs. Dit sal volgens beplanning die dorp se waterbergingskapasiteit en langtermynwatervoorsiening verbeter.
Chantèl Edwards-Klose, munisipale woordvoerder, sê die raad het die hersonering van ‘n deel van Erf 221 goedgekeur sodat die reservoirs op munisipale grond naby die bestaande wateropgaartenks opgerig kan word. Die projek vorm deel van George se Watermeesterplan en sal in twee fases uitgevoer word. Die eerste reservoir sal 16,5 miljoen liter water kan berg, terwyl ‘n tweede reservoir van dieselfde grootte later gebou sal word wanneer die vraag dit vereis. Volgens die munisipaliteit beskik George tans oor ongeveer 43,6 miljoen liter se drinkwaterbergingskapasiteit, maar studies toon dat nog 33 miljoen liter nodig is om toekomstige bevolkingsgroei, onderhoudswerk, hoër waterverbruik en noodgevalle beter te kan hanteer.
Browen Johnson, die uitvoerende burgemeester, sê die projek is ‘n belangrike stap om te verseker dat die dorp se infrastruktuur tred hou met groei en dat inwoners ook in die toekoms oor ‘n betroubare watervoorraad beskik. Die gedetailleerde ontwerp van die reservoirs is reeds aan die gang. Omgewingsgoedkeurings en ander wetlike prosesse moet egter eers afgehandel word voordat bouwerk kan begin.






