Die Staatsdienspensioenfonds (GEPF) het lede en pensioenarisse ná berigte gerusgestel dat ‘n beweerde daling van R200 miljard in die fonds se markwaarde weens die Israel-VSA-Iran-konflik geen invloed op hul pensioenvoordele het nie.
Die GEPF sê die fonds is ‘n omskrewevoordelefonds, wat beteken dat lede se voordele ingevolge die GEP-wet en die fonds se reëls gewaarborg word. Die bedrag waarop ‘n lid geregtig is, word bereken volgens faktore soos diensjare, gemiddelde jaarlikse salaris en ‘n aktuariële rentefaktor, en nie volgens die daaglikse waarde van die fonds se beleggings nie.
Volgens die fonds is dit normaal dat markwaardes tydens groot internasionale gebeure soos oorloë, pandemies en ander geopolitieke krisisse onder druk kom. Die GEPF wys daarop dat soortgelyke dalings voorheen voorgekom het, maar dat die fonds telkens sy verliese verhaal en daarna verder gegroei het. Meer as 80% van die fonds se beleggings is in die Suid-Afrikaanse ekonomie belê en die GEPF is boonop die grootste institusionele belegger op die Johannesburgse Effektebeurs (JSE).
Lees meer hier onder:







