OOS-KAAP. – Cwecwe (7) is volgens Women For Change glo by haar skool in Matatiele verkrag.
Women For Change sê die meisie het die verkragting aangemeld, maar nog niemand is vir die beweerde voorval in hegtenis geneem nie. Die organisasie het ‘n petisie begin om geslagsgebaseerde geweld as ‘n nasionale ramp te laat verklaar. Ondersteuning word gevra vir wanneer die getekende petisie op 11 April by die Uniegebou aan president Cyril Ramaphosa oorhandig gaan word. Om die betrokke gebeurtenis op die dag van 12:00 tot 16:00 te ondersteun, kan ‘n gratis kaartjie hier verkry word. Voorts word daar deur die organisasiee geeïs dat die verdagte in die saak gearresteer moet word.
Afriforum se privaatvervolgingseenheid het te kenne gegee hulle tree vir Jaco Pieterse, die skoolhoof, van Bergview College in ‘n raadgewende hoedanigheid in die bogenoemde saak op, aangesien beweringe van verkragting gedurende Oktober 2024 in die openbaar teen Pieterse gemaak en hy gedreig is. Pieterse het die eenheid gevra om dienooreenkomstig te oorweeg om stappe teen die oortreders te neem. Lees die brief wat AfriForum se advokaat, Gerrie Nel, aan Matatiele se stasiebevelvoerder gerig het hier.
AfriForum se privaatvervolgingseenheid het reeds op 17 Februarie en 29 Maart briewe ten opsigte van die verkragtingsaak aan die polisie gerig, maar het geen terugvoering ontvang nie. Die eenheid verteenwoordig slagoffers en nie verdagtes nie en indien dit bewyse sou ontvang dat Pieterse wel ‘n verdagte is, sal die eenheid sy optrede in die saak heroorweeg.
Kamogelo Mogotsi, woordvoerder vir die minister van polisie, sê drie individue, wat ‘n skoolhoof insluit, is as verdagtes geïdentifiseer. Alle uitstaande verklarings is deur die onderdoekbeampte saam met DNS-toetsing bekom. Die senior staatsaanklaer sal in die komende week gekonsulteer word, waarna terugvoering aan die familie van die minderjarige gegee sal word. Mogotsi verseker die publiek wetstoepassingsowerhede is aktief besig om die insident as ernstig en as ‘n prioriteit te ondersoek.
“Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) werk ywerig daaraan om te verseker dat geregtigheid geskied en dat diegene wat verantwoordelik is, aanspreeklik gehou word. Terwyl die ministerie die publiek se begeerte vir vinnige optrede erken, is dit noodsaaklik om die ondersoek toe te laat om ‘n behoorlike proses te volg om regverdigheid, deeglikheid en geregtigheid te verseker.”
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





