Gerugte van nuuspublikasies wat gaan sluit doen die rondte

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie Canva

Beeld, City Press, Daily Sun en Rapport se gedrukte publikasies kan volgens gerugte in die media reeds teen einde Oktober gestaak word. Die publikasies is onder die vaandel van Media24.

Volgens Moneyweb het vier bronne reeds die besluit bevestig.

Bussiness Day het berig Ishmet Davidson, die hoof- uitvoerende beampte van Media24, sê geen finale besluite om nuusblaaie toe te maak is nog geneem nie. Moneyweb se berig is as “halfgebak” beskryf.

Davidson het ook verder gesê: “Media24 continuously reviews its operations to protect viability and long-term sustainability within the context of its transition to an increasingly digital media landscape. We will also continue to consult with staff about any potential and subsequent actions and remain committed to following due process. We do not comment on rumours or speculation, nor on the details of any internal processes.”

Kallie Kriel, die uitvoerende hoof van AfriForum, sê Media24 en Naspers moet onthou waar hulle vandaan kom en hoe hulle reeds meer as 100 jaar deur die gemeenskap ondersteun is. Terwyl die gerugte menige geskok het, het AfriForum ‘n petisie begin om Beeld en Rapport in gedrukte formaat te behou.

Sommige joernaliste het hulle hartseer op sosiale media uitgespreek.

Daar is ook diegene wat openlik hulle blydskap oor die beweerde sluiting van die nuusblaaie uitgespreek het.

Nuusflits het Media24 se kommentaar gevra.

AfriForum

Mediaverklaring

13 April 2024

Beweerde Media24-plan ’n minagting van Afrikaans 

Indien die bewerings van die moontlike staking van die gedrukte uitgawes van twee groot Afrikaanse koerante in die Media24-stal waar is, sal dié reusemediamaatskappy sy historiese verantwoordelikheid teenoor sy Afrikaanse lesers ernstig versaak. AfriForum benadruk dat Media24 sy ontstaan deur befondsing en opofferings uit Afrikaanse geledere uit die oog verloor het en met dié beweerde stap sy rug draai op die gemeenskap wat al meer as ’n eeu lank aan dié instelling help bou het.

Die gedrukte weergawe van die ikoniese Afrikaanse publikasies Rapport en Beeld kan volgens mediaberigte wat vroeër vandag verskyn het, moontlik binnekort iets van die verlede wees. AfriForum voer egter aan dat die staking van dié gedrukte koerante ’n segment van die Afrikaanse lesersmark, wat om verskeie redes nog nie die skuif na aanlyn koerante gemaak het nie, sonder ’n betroubare alternatief sal laat.  Vir baie ander lesers is data ook te duur om digitale media na behore te benut.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is beide Rapport en Beeld volgens mediabronne steeds winsgewend ten spyte van druk op sirkulasiesyfers. Daar is steeds ’n waardevolle plek vir gedrukte Afrikaanse koerante en tydskrifte naas suksesvolle aanlyn Afrikaanse nuusplatforms soos Maroela Media.

“Media24 en Naspers moenie vergeet waar hulle vandaan kom nie. Die Afrikaanse gemeenskap ondersteun dié mediainstellings reeds meer as 100 jaar lank getrou. Die maatskappye wat hieruit gebore is, dra as’t ware ’n skuldlas teenoor die gemeenskap wat die vestiging van hul publikasies moontlik gemaak het en waarop daar nou op verskeie ander terreine suksesvol uitgebou word,” sluit Kriel af.

Volgens Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum, is die voortbestaan van gedrukte media van groot belang vir die oorlewing en groei van enige taal. “Digitale media het dikwels ’n kortstondige leeftyd en wanneer later navorsing gedoen word oor die inhoud of die taalgebruik is dit dikwels moeilik vindbaar of kon die feite intussen gewysig geword het. Om dié redes is dit, veral vir ’n taal wat onder druk verkeer soos Afrikaans, noodsaaklik dat beide formate behou moet word.”

Die uitvoerende hoof van die Afrikaanse mediahuis Maroela Media, Susan Lombaard, het intussen ook haar skok uitgespreek oor die bewerings. “Hoewel Maroela Media en dié publikasies binne die medialandskap in kompetisie met mekaar is, is mededinging in die mediaomgewing gesond én belangrik ter wille van behoorlike vervulling van die media se waghondrol. Indien die staking van hierdie gedrukte publikasies met hul ryk geskiedenis sou voortgaan, sal dit ’n reuseverlies vir die medialandskap én Afrikaans wees.”

“Ter wille van Afrikaans en die Afrikaanse gemeenskap wat deur ons as mediainstansies bedien word, hoop ek van harte dat hierdie beweerde besluit heroorweeg sal word,” sluit Lombaard af.

AfriForum het intussen vandag ’n petisie van stapel gestuur om vir die behoud van die gedrukte weergawes van Beeld en Rapport te veg. Die publiek kan hul name op die aanlyn petisie voeg ter ondersteuning van die behoud van Afrikaanse gedrukte media. Ondersteun die petisie hier: www.redrapport.co.za.

Alana Bailey

Hoof: Kultuursake

AfriForum

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief