KWAZULU-NATAL. – ’n Gesin wat Saterdag ’n motorongeluk oorleef het, het glo kort daarna die slagoffers van afpersing geword, nadat hulle selfone by die ongelukstoneel verdwyn het. Die man, vrou en hul 5-jarige kind is in hul voertuig van die pad af, verder teen ‘n wal af en het in ‘n rivier beland.
Brad Nathanson Investigations sê die ouers is ernstig beseer en is hospitaal toe geneem, nadat die vrou uit die motorwrak gesny moes word. Terwyl die gesin in die hospitaal was, is hul gesteelde selfone gebruik om in ruil vir geld hulle foto’s, wat hulle kind se foto’s van geboorte tot en met 5 jaar insluit, te kan kry. Die booswigte het glo gedreig om alles uit te vee indien hulle nie betaal sou word nie.
Nathanson waarsku dat selfone dikwels sensitiewe inligting bevat, soos banktoepassings, e-posse, kontaklyste, identiteitsdokumentbesonderhede en natuurlik privaat foto’s, wat maklik misbruik kan word indien ’n toestel gesteel sou word. Daar word aangeraai dat selfooninligting gereeld gerugsteun moet word, sterk wagwoorde gekies moet word en veiligheidsinstellings gemaak moet word om die risiko van afpersing te verminder.
“Dink vir ’n oomblik hieroor. ’n Gesin oorleef ’n ongeluk, hulle is beseer, getraumatiseer en in die hospitaal opgeneem. Die voertuig is afgeskryf, daar is geen versekering nie, geen mediese fonds nie – die finansiële druk moet oorweldigend wees. En terwyl hulle in hospitaalbeddens lê, steel iemand wat veronderstel was om hulle te help, glo hul selfone en probeer hulle afpers deur hul privaat foto’s en hul kind se lewensherinneringe daarvoor te gebruik. As dit waar is, het ons nie net met diefstal te doen nie. Ons het met roofdiere te doen.
Daar was ’n tyd toe noodwerkers en dié wat eerste reageer as helde beskou is – mense wat jy kon vertrou wanneer jy op jou kwesbaarste is. Mense wat opgedaag het om te help, nie om te plunder, steel en af te pers nie. As ons by ’n punt gekom het waar mense nie eens diegene kan vertrou wat na ’n ongelukstoneel kom om te help nie, is ons as samelewing in ernstige moeilikheid. Want dit is nie meer net misdaad nie – dit is morele bankrotskap.”
Nathanson maak dit duidelik dat die waarskuwing nie ‘n aanklag teen alle nooddienspersoneel is nie, omdat daar ondanks hierdie situaise steeds ander in diens is wat met ingtegriteit en toewyding dien. Hy beklemtoon egter dat intieme foto’s of video’s nie op ‘n selfoon gehou moet word nie en dat sensitiewe persoonlike inligting nie op jou toestel gebêre moet word nie. Indien ‘n foon met sulke tipe inligting in die verkeerde hande beland, kan jou hele persoonlike lewe binne minute gekopieer en teen jou gebruik word.
“Die werklikheid is dat die gevaarlikste item wat jy dra nie meer jou beursie is nie, maar jou selfoon. En as daar geen gevolge vir hierdie tipe misdaad is nie, bly die vraag: wie is volgende?”





