Brekende Nuus
Nuus

Gesoekte bendelid ná skietery naby stemlokaal in arres

Foto: SAPD

WES-KAAP. – ’n Gesoekte bendelid (32) is in hegtenis geneem nadat hy na bewering op polisiebeamptes geskiet het toe hulle hom tydens ontplooiing vir die verkiesing in Manenberg opgemerk het. Die skietery het sowat 150 meter van ’n stemlokaal in Ruimteweg plaasgevind.

Volgens polisiewoordvoerder brig. Novela Potelwa was beamptes van die teen-bende-eenheid strategies in die gebied ontplooi as deel van die polisie se veiligheidsplan vir die 2026- munisipale verkiesing. Die verdagte het volgens die polisie op die beamptes begin skiet toe hy hulle sien. Hulle het teruggeskiet en hom in hegtenis geneem. Die man is na bewering met ’n vuurwapen met ’n verlengde magasyn en 32 rondtes ammunisie aangetref. Niemand is tydens die skietery beseer nie.

Hy sal na verwagting in die hof verskyn op aanklagte van poging tot moord en die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen.