KWAZULU-NATAL. – Drie verdagtes wat vir ‘n vlaag moorde, insluitend dié op sers. Yekani Siboniso (37) in 2023, gesoek is, is Dinsdagaand tydens ‘n skietery met die polisie in die Congo-area van Inanda doodgeskiet.
Kol. Robert Netshiunda sê verskeie polisie-eenhede het inligting oor die verdagtes opgevolg. Met aankoms by die huis in Nombonjani Mtshaliweg het vier verdagtes op die polisie begin skiet. ‘n Oor-en-weer-skietery het ontstaan waartydens die verdagtes noodlottig gewond is en op die toneel dood verklaar is.
“Een verdagte het ternouernood aan arrestasie ontkom en die donkerte ingehardloop. ’n Soektog na hom is tans aan die gang.”
Netshiunda sê die verdagtes is postitief aan die moord op sers. Siboniso van die KwaMashu-opsporingspan verbind. Hy is in Junie 2023 ontwapen en met sy eie diensvuurwapen doodgeskiet.
“Nog moorde waarby die verdagtes betrokke was, sluit ‘n dubbele moord in Inanda in Januarie 2024 in, asook nog twee moordsake wat in 2021 en 2023 by Inanda geregistreer is.”







