Die Gautengse department van gesondheid sê die jongste syfers wys op ’n skerp toename in malaria-gevalle en sterftes in dié provinsie. Tussen Januarie en Desember 2025 is 666 gevalle aangemeld, waarvan sewe sterftes was. In vergelyking daarmee is reeds 414 bevestigde gevalle en 11 sterftes in net die eerste drie maande van 2026 (Januarie tot Maart) aangemeld.
Dit beteken dat byna twee derdes van verlede jaar se totale gevalle reeds binne ’n baie korter tydperk in 2026 bereik is, terwyl die aantal sterftes reeds hoër is as die totaal vir 2025. Die departement waarsku dat hierdie toename die behoefte aan vroeë opsporing en vinnige behandeling beklemtoon om verdere sterftes te voorkom. Die toename hou verband met reis na malaria-gebiede ná die feesseisoen, wat mense se blootstelling verhoog. Hierdie syfers toon ‘n duidelike toename in infeksies, wat die belang van vinnige diagnose en behandeling beklemtoon om lewens te red.
Malaria is ’n ernstige siekte wat deur muskietbyte versprei word, maar kan behandel word as dit betyds opgespoor word. Vertraging in behandeling kan egter tot ernstige komplikasies of selfs die dood lei. Individue word aangeraai om dadelik mediese hulp te soek as hulle simptome soos koors, kouekoors, hoofpyn of moegheid ontwikkel, veral ná besoeke aan gebiede soos Limpopo, Mpumalanga, Mosambiek, Zimbabwe en Malawi.
Die gebruik van muskietweermiddels en beskermende klere bly belangrik om infeksie te voorkom. Die departement monitor die situasie en sê maatreëls word verskerp om die verspreiding van malaria te beheer, veral met Wêreldmalariadag later vandeesmaand.






