Brekende Nuus
Nuus

Gevangene in hof nadat dwelms in sel gevind is

Foto: Ter illustrasie

GAUTENG. – Joshua Belden Swarts (41), ’n gevangene in die Boksburg-gevangenis, het in die Brakpan-landdroshof verskyn nadat hy na bewering met tik met ‘n geraamde straatwaarde van R12 000 en twee selfone in sy besit betrap is.

Lt.kol. Tebogo Thebe, Valke-woordvoerder, sê die ondersoekers het op inligting opgetree wat as deel van Projek Ditto ontvang is. Twee selfone is onder Swarts se kussing gevind, terwyl die tik in sy sluitkas ontdek is. ’n Week tevore is hy tydens ’n interne soektog deur die departement van korrektiewe dienste ook met ’n selfoon betrap, wat die totaal op drie te staan bring. ’n Bykomende aanklag van die besit van ’n gesteelde voertuig is by die dossier gevoeg nadat ’n voertuig wat as gesteel aangemeld is, tydens die Projek Ditto-optrede in sy besit gevind is voordat hy in hegtenis geneem is.

Die saak is vir verdere ondersoek tot 26 Januarie 2027 uitgestel.